My Kind se Emosies

Marzanne Booyens

‘n Klein kindjie se ontwikkeling het soveel fasette. Met die dissiplinewerkswinkel het ek agtergekom dat ons ou kleintjies se emosionele wêreld vir die ouers nog nie so duidelik is nie. Ek besef ook dat as julle as ouers hierdie belangrike deel bietjie beter kan verstaan, julle dalk die legkaart wat jou kleuter is makliker sal kan bou.

HOE WERK MY KINDJIE SE EMOSIES?

Kleuters is emosionele bondeltjies. Die rede hiervoor is dat hulle in hul kort lewenstyd maar nog min emosionele ervarings gehad het. Hulle is as’t ware ‘n skoon lei waarop emosionele ervarings geskryf word. Baie kleingoed verstaan ook nog nie hulle emosies nie en kan dit nie by die naam noem nie. Hierdie onbekende lei tot angs (selfs ons grootmense kry die veg-of-vlugreaksie wanneer ons onself in ‘n vreemde situasie bevind). Omdat ‘n klein kindjie nog nie genoegsaam kan kommunikeer nie, gaan hulle byt, slaan of skop (negatiewe gedrag) - enigiets om weg te kom van hierdie gevoel af.

As ons dus die onbekende bekend kan maak, gaan ons hierdie gevoel van magteloosheid kan minimeer. As jou kindjie se kommunikasie die probleem is, gee vir haar of hom woorde. Op hierdie manier kan sy of hy eerder die mondjie gebruik om mee te praat as wat hy of sy die hande, voete of tande gebruik. Gee ook vir jou kindjie ‘n naam vir dit wat die hartjie voel en leer haar of hom wat om met hierdie gevoel te maak (aanvaarbare versus onaanvaarbare gedrag).

Dit is egter belangrik om te onthou dat dit baie moeilik is om so ‘n emosioneel-belaaide kindjie te leer, want al waarop so ‘n kindjie instinktief en onbewustelik focus, is op maniere om van hierdie aaklige gevoel (angs) ontslae te raak. Partykeer moet ons dus ‘n paar minute kans gee vir die emosie om uit te woed voordat ons hierdie kindjie kan leer.

HOEKOM IS REëLS SO BELANGRIK?

Reëls, grense en struktuur is baie belangrik vir kinders, want dit gee ‘n gevoel van veiligheid en sekuriteit. Hoekom? Want dit is die bekende. As ‘n kindjie onseker voel, toets hy gedurig hierdie grense (negatiewe gedrag) om seker te maak sy veiligheidsnet is nog daar.

Enige verandering word deur die kindjie as angs ervaars, want die bekende is nou onbekend en dit lei tot negatiewe gedrag. Navorsing het bevind dat egskeiding, dood en verhuising die drie grootste traumas in klein kindertjies se lewens is.

Ons moet egter altyd in gedagte hou dat ‘n kindjie by almal leer wat deel is van sy of haar lewe. Juffrou se hantering, ouers se hantering, maats se hantering, ander personeel se hantering en ander mense se hantering vorm deel van hierdie kindjie se leerproses. Positiewe dissipline is ‘n proses en moet herhaal word om impak te hê. Die kindjie gaan dus nie oornag verander nie, maar die resultate gaan vir ewig wees. Deur aan jou kind keuses te gee, bemagtig jy hom of haar om beheer te hou oor die situasie. Verlies aan beheer = onbekende = angs.

WAAR PAS DISSIPLINE IN?

Negatiewe hantering van dissiplinesituasies (soos pakslae en “omkopery”) toon vinniger resultate en dit is hoofsaaklik die rede waarom ouers dit gebruik om dissipline te handhaaf – veral as die kindjie al vir ‘n geruime tyd negatiewe gedrag openbaar.

Negatiewe dissipline leer egter vir ‘n kind verkeerde hanteringsmeganismes aan (soos vermyding, verplasing, regressie en voorwaardelike beloning). Soos wat hierdie kind ouer word, gaan sy of haar gedrag net vererger, want dit is gegrond op verkeerde tegnieke.

Hoe weet ek of my dissipline werk? Maklik. Vra altyd vir jouself af: Wat het ek sopas vir my kind geleer?

Dissipline is om jou kind te leer hoe om op te tree as jy nie daar is nie.
Dissipline leer ‘n kind korrekte teenoor verkeerde gedrag.
Dissipline moet ‘n kind leer om te dink voor hy doen (STOP, dink, dan doen).
Dissipline moet ‘n kind leer dat sy dade gevolge het.

HOE KOM EK WEER OP DIE REGTE PAD?

Gary Landreth gebruik die volgende vyf-stapbenadering vir die stel van grense. Hierdie is ‘n uitstekende riglyn vir dissipline en word in terapie gebruik vir kinders met erge gedragsprobleme. Gebruik dit dus gerus om die dissiplinetrein weer op die spoor te kry.

1. Weerspieël jou kind se gevoelens: “Ek sien dat jy baie kwaad is vir jou sussie en haar graag met jou pop wil slaan... ”
Hierdeur benoem jy die emosie, maar ook voel jou kind dat jy hom raaksien en daarom luister hy wat jy vir hom wil sê.

2. Stel duidelike grense: “...maar jy mag nie jou sus slaan nie... ”
Onaanvaarbare gedrag word uitgelig.

3. Verskaf ’n alternatief: “...as jy kwaad is, kan jy jou kwaadmasjien slaan of die slaansak boks... ”
Help jou kindjie deur ‘n ander opsie te verskaf. Hierdeur leer jy ook jou kind dat dit okei is om kwaad te wees en dat daar aanvaarbare maniere is om van hierdie emosie ontslae te raak.

4. Stel die gevolge van negatiewe gedrag: “As jy kies om jou sussie te slaan, kies jy om na jou kamer toe te gaan / om nie vanmiddag jou storie op televisie te kyk nie.”
Deur jou kind ‘n keuse te gee, laat jy hom toe om beheer te behou.

5. Implementeer die grens. As jou kind nie die alternatief kies nie en tog die grens oortree, moet die logiese gevolg intree.
Jy MOET jou beloftes (straf) gestand doen, anders is hierdie hele oefening verniet.

WAT IS DIE SKOOL SE ROL?

Elke kindjie het die reg om optimaal te ontwikkel. Omdat daar soveel dinge is wat ‘n invloed het op klein kindertjies se gedrag, is dit die skool se werk om elke kindjie in ons sorg “leerbaar” te kry. Dit beteken dat dit ons plig is om enigiets wat in ‘n kindjie se pad staan om te ontwikkel te identifiseer. As ons nie self die hindernis kan verwyder nie, moet ons iemand kry wat dit wél kan doen.

‘n Nuwe kindjie moet aanpassingstyd gegun word aangesien kinders se gedrag in nuwe situasies meeste van die tyd nie hulle “gewone” gedrag is nie. Kinders wie se dissiplinestelsels by die huis ooreenstem met die skool s’n pas vinnig en maklik aan. Die rede hiervoor is dat die struktuur by die huis en die skool dieselfde is (bekende).

Die gemiddelde aanpassingstyd wat vir ‘n kleuter gegun moet word, is ses weke. As negatiewe gedrag vir langer as dit aanhou, ten spyte van die struktuur wat by die skool verskaf word, moet ons begin soek na ander oorsake vir die gedrag. Moontlike oorsake word dan deur ‘n ellimineringsproses uitgeskakel totdat die regte oorsaak gevind kan word sodat die kindjie by die regte terapeut kan uitkom om te help om die proses te bespoedig. Soms is die oorsake of die algemene rigting van die hindernisse duidelik, maar omdat daar soveel invloede is wat ‘n effek kan hê op ‘n klein kindjie se gedrag, is dit soms nie so duidelik nie en kan die proses ‘n tydjie neem om deur te trap.

Ons hoofdoel as opvoedkundiges en as terapeute is om te verseker dat elke kindjie optimaal kan ontwikkel. Kleuters ontwikkel teen ‘n groot spoed en daarom is dit belangrik dat hierdie tyd sinvol benut sal word. Daar moet ook verseker word dat die instansie waar die kleuter hom of haar bevind die plek is waar hy of sy optimaal gaan ontwikkel.

Elke kindjie is vir ons kosbaar en spesiaal. Ek glo en vertrou dat julle as ouers sal begrip toon vir hierdie proses en dat julle sal weet dat, indien dit jou kindjie is wat hulp benodig, ons alles in ons vermoë sal doen om hom of haar te kan help.

Awesome Image

By Kontiki is elke kleutertjie spesiaal. Elke kindjie se individualiteit en uniekheid word in ag geneem wanneer ons hulle voorberei vir skooltoetrede. Ons graad R-klasse voldoen aan departementele riglyne en volg die CAPS-kurrikulum.

Skoolure

  • Ma - Vr07:00-17:15
  • Sa - SoGesluit
  • SkoolvakansiesGesluit

  Besoek ons Facebookbladsy.

 
 

Kontak ons gerus

U kan ons gedurende skoolure kontak by.

  • Genl. Hertzogstraat 100
    Dan Pienaar, Bloemfontein
  • 051 – 436 3370
  • ontvangs@kontiki.co.za
© 2019 Kontiki Preprimêr. Alle regte voorbehou. Webtuiste deur Utilisoft