Skoolgereedheid en Ontwikkeling in Totaliteit

WAT IS SKOOLGEREEDHEID EN WAAR PAS DIT IN MY KINDJIE SE ONTWIKKELING IN?

Die preprimêre skool se hooftaak is om ‘n kleuter skoolgereed te kry. Om skoolgereedheid volkome te verstaan, moet ons eers gaan kyk na die ontwikkeling van die klein kind. Ontwikkeling gedurende die kleuterjare is bitter snel en die ontwikkeling wat plaasvind gedurende hierdie eerste ses lewensjare is meer as wat ooit, in so ‘n gekonsentreerde deel, deur die hele lewensloop van die mens plaasvind. Daar is baie teorieë rondom kinderontwikkeling. Ek gaan egter net kortliks hierby stilstaan.

‘n Klein kindjie se ontwikkeling vind op verskillende fases plaas. ‘n Baba se lyfie voer onwillekeurige bewegings uit wat oorgaan in willekeurige of beheersde bewegings. Na beheersde beweging volg motoriese beheer, motoriese vaardigheid, motoriese patroon en motoriese veralgemening. Grootmotoriese ontwikkeling is dus die eerste sigbare ontwikkeling wat plaasvind. Die grootspiere van die lyf word geoefen deur kruip, loop, rol, spring, hardloop, klim - deur besig te wees met die lyfie. Grootmotoriek sluit ook ruimtelike oriëntering, rigtingsin, dominansie en middellynkruising in.

Verkenning en ontdekking is nodig vir grootmotoriese ontwikkeling om plaas te vind. Hiervoor word die kleuter se sintuie (persepsies) ingespan. Die belangrikste van hierdie perseptuele ontwikkeling is visuele persepsie (die boodskap van die oog na die brein) en ouditiewe persepsie (die boodskap van die oor na die brein).

Wanneer die kind sy of haar grootspiere met gemak kan gebruik, begin die fynspiertjies ook oefening kry. Die fyner spiere in die hande en ogies moet geoefen word voordat dit met vaardigheid gebruik kan word. Indien hierdie spiertjies nie reg ontwikkel nie, sal die kindjie sukkel met teken, skryf en knipwerkies. Teen die tyd wat die kind skool toe gaan, moet teken, skryf en knip sulke natuurlike aksies wees dat die kleuter nie eers meer daaraan dink wanneer dit gedoen word nie.

Emosionele ontwikkeling is een van die belangrikste ontwikkelingsareas van die kleuterjare en vind op dieselfde tyd plaas as die ander vaardighede. Die kleuter is in essensie ‘n emosionele wesentjie. Indien daar emosionele krisisse in die kleuter se lewe aan die gang is, het dit ‘n invloed op elke ander aspek van sy of haar ontwikkeling. So ‘n kindjie kan selfs terugval na ‘n vorige ontwikkelingsvlak. Emosionele ontwikkeling vorm ook die grondslag vir selfbeeldontwikkeling.

Soos wat die kindjie suksesse behaal met al hierdie ontwikkelingstakies, groei sy selfbeeld en vind daar positiewe emosionele ontwikkeling plaas. Indien die kindjie nie suksesvol is nie, beïnvloed dit die emosionele ontwikkeling negatief. As die kindjie genoeg selfvertroue het, vind daar gesonde interaksie met die maatjies plaas en dit bevorder die kindjie se sosiale ontwikkeling.

Soos u kan agterkom is al hierdie ontwikkelingsvelde onlosmakend deel van mekaar (sien ook die grafiek aan die einde van die artikel). Ontwikkeling in een area het ‘n invloed op ontwikkeling in ‘n ander area, hetsy positief of negatief. Indien daar enige uitvalle of ontwikkelingsprobleme in een van hierdie fases voorkom, kan dit veroorsaak dat ‘n ander fase nie heeltemal korrek ontwikkel nie. Ons moet ook nooit uit die oog verloor dat elke kindjie se ontwikkelingstempo verskil nie. Dit is omdat elke kindjie sy eie unieke stel omstandighede het. Persoonlikheid, prenatale faktore, ouerskapstyl, siekte en hospitalisasie, sosiale verhoudings, dieët en eetgewoontes, sowel as trauma (soos egskeiding, verhuising of dood) is van die faktore wat ‘n invloed het op emosionele ontwikkeling.

Soos hierbo gesien vind ontwikkeling in die kleuterskool primêr op “lyfie”-vlak plaas. Dit beteken dat kleuters eerstens leer en ontdek deur gebruik te maak van hulle lyfies en, tweedens, deur gebruik te maak van alles om hulle en in hulle omgewing. Dit staan bekend as konkrete leer. Hoe meer sintuie (hoor, sien, voel, proe, ruik) ons by die leerproses kan betrek, hoe beter is die leerervaring vir die kind. Dit is waarom “papierwerk” nie sinvol is nie. In plaas daarvan om vir jou kindjie werksvelle van die internet af te trek, laat hulle buite speel. Met klim-, klouter-, hardloop- en balansaktiwiteite word al hierdie vaardighede geoefen. Wanneer jy jou kind blootstel aan werk waarvoor hy of sy nog nie gereed is nie, het dit ‘n negatiewe invloed op sy of haar selfbeeld.

Eers wanneer daar genoeg konkrete leer plaasgevind het, kan die kindjie oorgaan na kognitiewe leer. Kognitiewe leer is leer wat in die brein plaasvind. Dit is wanneer kinders dit wat hulle deur middel van hulle lyfies en omgewing geleer en ervaar het, tweedimensioneel, op papier, kan toepas. Dr. Melody de Jager het dit in ‘n artikel oor Skoolgereedheid (beskikbaar op die Mind Moves webtuiste) so pragtig gestel: “’n Kindjie moet so volgespeel wees, dat hy daarvan oorloop. Eers dan is hy gereed om op ‘n stoel te sit en werk.”

Die preprimêre onderwyseres behoort hierdie ontwikkelingsfases goed te ken en verstaan. Haar grootste werk is om seker te maak dat die kindjie genoeg stimulering kry sodat optimale leer binne hierdie konkrete fase kan plaasvind. Verder moet sy uitvalle of probleemareas identifiseer wat ‘n moontlike hindernis kan wees vir normale ontwikkeling. Met die nodige hulp van kundiges soos spraak- en arbeidsterapeute kan hierdie hindernisse oorkom word en die ontwikkelingsverloop weer op die regte koers geplaas word.

Om skoolgereedheid te verstaan, moet ons eers kyk na die volgende twee belangrike definisies (aangehaal uit Skoolgereedheid: ‘n Inleidende studie - MC Grovè):

Skoolrypheid is die gevolg van ‘n biologiese groeiproses waardeur nuwe fisiese moontlikhede tot skooltoetrede te voorskyn tree, meestal gesien as rypwordende funksies. Hierdie groeiproses moet ingewag word en kan nie verhaas word nie.

Skoolgereedheid is ’n omvattende begrip wat skool-, perseptueel-motoriese, emosionele, sosiale en kognitiewe rypheid insluit. In teenstelling met skoolrypheid wat nie verhaas kan word nie, kan die kwaliteit van ‘n kind se skoolgereedheid, veral in die ontvanklike eerste ses lewensjare, verhoog word deur sy ervaringsveld en betekenisse te verbreed en deur hom te leer om sy sintuie so doeltreffend moontlik te gebruik.

Skoolrypheid is dus iets wat instrinsiek is aan die kind. Eienskappe eie aan die kleuter gaan bepaal wanneer hy of sy skoolryp gaan wees. ‘n Kind moet skoolryp wees voordat hy of sy skoolgereed kan wees. Hierdie proses kan nie aangejaag word nie. Met die skoolgereedheidstoetsings meet ons in watter mate die vaardighede wat ‘n kindjie nodig het om in graad 1 sukses te kan behaal, reeds in plek is.

Dr. Melody de Jager gebruik die voorbeeld van ’n klein volstruisie wat sy eier van binne af moet ooppik. Die volstruisboer se dogter het die arme ou babavolstruisie wat so aanhou pik sonder dat iets gebeur jammer gekry. Sy help toe van buite af om die eier te breek. Fataal vir die volstruisie, want toe hy gebore word, was sy nekkie nie naastenby sterk genoeg om sy koppie regop te hou nie.

Emosionele en sosiale ontwikkeling kan deur die versorger aangemoedig en bevorder word. Dit kan egter nie bestuur word nie, want een persoon kan nooit al die faktore wat op een kindjie inwerk, beheer nie. Dit gebeur soms dat die meeste van die vaardighede in plek is, maar die kindjie is nog nie gereed vir die emosionele eise van laerskool nie. So ‘n kindjie doen aanvanklik goed, maar sodra die druk meer raak, na ongeveer ses maande, kan die kindjie nie meer volhou nie.

Die grootste verskil in die assessering van ’n graad R kind en die assessering van ’n graad 1 kind 

Awesome Image

By Kontiki is elke kleutertjie spesiaal. Elke kindjie se individualiteit en uniekheid word in ag geneem wanneer ons hulle voorberei vir skooltoetrede. Ons graad R-klasse voldoen aan departementele riglyne en volg die CAPS-kurrikulum.

Skoolure

  • Ma - Vr07:00-17:15
  • Sa - SoGesluit
  • SkoolvakansiesGesluit

  Besoek ons Facebookbladsy.

 
 

Kontak ons gerus

U kan ons gedurende skoolure kontak by.

  • Genl. Hertzogstraat 100
    Dan Pienaar, Bloemfontein
  • 051 – 436 3370
  • ontvangs@kontiki.co.za
© 2019 Kontiki Preprimêr. Alle regte voorbehou. Webtuiste deur Utilisoft